Alda Geers het haar kinderjare op 'n mielieplaas in die destydse Wes-Transvaal deurgebring. Daar, aan die oewer van die Taaibosspruit, in die afsondering van populiere en wilgers, het sy 'n rustige skuilplek vir bepeinsing gevind. En het sy die karakters ontmoet waaroor sy vandag skryf. Hulle het hulle in die laatmiddagplaasgeluide aangemeld - in die geklingel van melkemmers, implemente wat gebêre word, die roep van tarentale wat vir die nag gereed maak. Karakters wat haar, ná die grootmaak van ses kinders en 'n lang reis deur verskillende studierigtings - musiek, onderwys, argitektuur - steeds dring om hulle uit haar lyf geskryf te kry. Sy en haar gesin woon deesdae in Pretoria, met drie kinders nog in die huis. Daar's nie wilgers en populiere in haar agterplaas nie, maar daar's 'n reusekanferboom met 'n breë sambreelkroon. En daar's 'n skootrekenaar.